News


Bekende Wynskrywer Emile Joubert het kom kuier en hierdie stuk oor Schalk Burger & Sons geskryf...

 

02 August 2010


Ek was besig om die tannienstruktuur van ’n Welbedacht Pinotage 2007 te ontleed toe iets ’n piep-kwak-geluid maak en op my skoot spring. Schalk Burger snr, baas van die Welbedacht-plaas, het my verbaasde reaksie met verbasing van sy eie aangegluur. En ek moes bieg: nee, ek het nog nooit in my lewe ’n wynproe aangepak met ’n meerkat op my skoot nie.

Só is ek bekend gestel aan Blossom, een van Welbedacht se twee inwonende meerkatte wat, lyk dit my, heel gemaklik daarmee is om hul by wynproeë aan te sluit. Synde ’n dieremens het ek glad nie omgegee toe Blossom die meerkat op my skoot lê terwyl Schalk en sy wynmaker, Jacques Wentzel, die proe verder lei nie. Lieflike geure van die plaas se Chenin Blanc en Cabernet en Shiraz is afgewissel deur gemaklike, reguit gesprekke oor houtveroudering, ou-bosstokwingerde wat wonderlike druiwe aan Welbedacht besorg, die fieterjasies van die wynmark en dan ook ’n bietjie rugby.

Blossom het kort-kort haar skerp snoet gelig om te kyk of haar baas nog in die omtrek is, voordat sy ’n klein gapie gooi, haar oortjie krap en verder op die vreemdeling se skoot slaap. Wat jy van ’n meerkat moet weet, is dat die goed omtrent soveel weeg soos ’n volstruisveer. Dit is dus maklik om deur al die geselsery van hul teenwoordigheid te vergeet.

Die gesprek begin toe tegnies raak en ek het baie vrae, aangesien die Wellington-area se bydrae tot top-gehalte wyne nog nie oral bekend is en erken word nie.

Dis toe dat die dag se aanslag verander, net daar waar ek vir Schalk en Jacques vra of dit, wel, nie dalk bietjie warm in Wellington raak vir ideale wynmaak nie. Dié dorp en sy area is immers bekend vir sy inwoners wat nog hul lakens natspuit voordat hulle gaan slaap en waar iemand nou en dan in die middel van ’n hittegholf met ’n jaggeweer na die son skiet.

Schalk het nog ’n glas wyn vir ons geskink – ek dink dit was ’n heerlike houtverouderde Chenin Blanc – en gesê: “Wel, as jy nie glo dit raak koel nie, dan kan ons jou altyd gaan wys. Wag net eers ’n bietjie.”

Die son was egter nog hoog, en Schalk het weggeval met ’n gesprek oor fotosintese, grondsamestelling, die belang van berg-wind-verhouding en die voghou-vermoë van ou wingerdstokke. In duidelik verstaanbare taal het hy soos ’n gemoedelike professor gepraat.

Dit het skemer begin raak. Ek en Schalk het besluit dit sou, ter wille van professionele deeglikheid, vir my as joernalis gepas wees om wéér deur die reeks wyne te proe, net om seker te maak dat my aanvanklike waarnemings van vroeër daardie dag korrek was.

Toe ons afsluit met Welbedacht se pronkstuk - in my oë die Hat Trick-rooiversnit - was dit reeds donker. Schalk het na sy horlosie gekyk en laat weet dat my vraag oor die hitte van Wellington nou beantwoord kan word, en watter beter manier van verduideliking is daar as persoonlike ervaring.

In die wingerde.

Dis toe dat die Groenberg-trek begin: ons nagtelike tog na die Welbedacht-wingerd. Ek, Schalk en wynmaker Jacques. Tiaan, Schalk se een seun (die ander een speel rugby) word ook opgekommandeer. Tiaan is die plaas se bemarkinghoeroe en hy moet bywees, aangesien die bemarkingwaarde van koelwingerde van kardinale belang is. Iewers het ’n Afrikaanse dramaturg ook op die toneel verskyn, en die grootste bakkie wat ek in my lewe gesien het word gelaai vir die uitstappie.

Daar is die mense wat moet inkom. En aangesien wyn – soos ons almal weet – heel anders in die buitelug proe, het Tiaan ’n verskeidenheid Welbedacht-produkte in ’n kis gepak sodat ek net seker kan wees dat my vroeëre indrukke weerspieël word met die proeslag onder die oopsterre. (Deeglikheid is die onerkende sleutel tot die wynbedryf.)

Teen hierdie tyd is Schalk se honde – onder meer drie sjarpeis en een foksterriër – mal van opwinding en spring hulle ook agter in die bakke. En dan is daar Blossom.

Blossom die meerkat vrek glo oor ’n nagtelike tog na ’n wingerd en toe dit blyk asof daar sonder haar gery gaan word, sit sy ’n keel op. Hierdie is vol skwiekerige geluide van weemoed en hartstog, en herinner nogal baie aan die vroeë werke van Patricia Lewis.

Schalk tel Blossom op en klim agter die stuur in. Vyf mense. Vier honde. ’n Bokswyn en een meerkat. Ek meen, wat wil jy meer in die lewe hê?

Ons ry op en af en dwars teen die hange van die Groenberg, deur wingerde, op ’n grondpad, en die enigste lig is dít wat van die bakkie kom. Schalk se lesing duur voort, en aangesien hy geesdriftig beduie terwyl hy praat spring Blossom weer op my skoot om sy bobeen-grootte arms te vermy.

Uiteindelik kom ons by ons bestemming aan: ’n ou bosstok Chenin Blanc-wingerd. Hoogliggend. Van die Groenberg kyk ons uit oor die donker vallei in die rigting van die Paardeberg. En verby dit is Kaapstad en die see. Daar is sterre, maar geen maan.  Dis nag.

Ons maak glase wyn vol om te drink op die pragtige gesig van die Kaapse wynlande. “Voel jy hoe koel is die lig nou hier?” vra Schalk.

“Inderdaad.” Erken ek. Die meerkat staan op haar agterpote, teen my been. “Tel haar op sodat sy nie wegraak nie,” sê Schalk. Ek maak so en Blossom klim knus in my baadjiesak in.

Schalk stap tussen die wingerd in. “Kom, voel hier,” sê hy. Ek volg hom. Die terrein is rof, en ek mors amper van die Syrah 2006 wat in my glas is. “Sit jou hand op die blare en jong trosse.”

Ek maak so. Die plant is yskoud. Reeds klam van die kondensasie.

Schalk het toe vir my die antwoord op daardie vraag van vroeër gegee.

Met hierdie feit ingeprent, proe ons weer die wynreeks, en ek kan rapporteer dat die derde proe bewys dat als in orde is.

Al vyf van ons kyk weer uit oor die donker vallei en met effense heimwee is ons en die huisdiere terug in die bakkie, pad af na die plaashuis.

Ek neem nog vir oulaas ’n paar nota’s, en pen ’n herinnering neer: ek moet vir my redakteur vertel van die tyd wat hierdie opdrag in beslag geneem het.

Daar word gegroet en stadig ry ek by Welbedacht uit. Ek mis die plek en die mense al klaar. En ek herinner myself: ek moet teruggaan om weer na die samestelling van die Hat Trick-wyn te kyk. By die teerpad aangekom trek ek van die pad af om huis toe te bel. Ek druk my hand in my sak in, en in stede van die koel, harde plastiek van die selfoon val my hand op die warm, sagte lyfie van Blossom, die slapende meerkat.


Click here to comment on this news article